Salt Lake City

Salt Lake City

Kaart Wapen
Vlag
 Land Vlag van Verenigde State van Amerika Verenigde State
 Deelstaat Utah
 Administratiewe distrik (county) Salt Lake
 Koördinate 40°45′N 111°53′W / 40.750°N 111.883°W / 40.750; -111.883
 Oppervlak:  
 - Totaal 286,99 vk km
 Hoogte bo seevlak 1 288 m
 Bevolking:  
 - Totaal (1 Julie 2019) 199 723
 - Bevolkingsdigtheid 701,84/vk km
 - Metropolitaanse gebied 1 257 936
 Tydsone UTC -7 (MST)
 - Somertyd UTC -6 (MDT)
 Klimaat  
 - Tipe Halfdroë klimaat
 - Gemiddelde jaarlikse temperatuur 12 °C
 - Gem. temp. Januarie/Julie -5,4 / 17,7 °C
 - Gemiddelde jaarlikse neerslae 408,9 mm
 Burgemeester Erin Mendenhall (D)
 Amptelike webwerf slc.gov

Salt Lake City (Afrikaans: Soutmeerstad, in Engels dikwels kortweg SLC genoem) is die hoofstad en grootste nedersetting in die Amerikaanse deelstaat Utah, geleë in die sentrale noordelike gedeelte van die deelstaat en 15 myl (24 km) oos van die naamgewende Groot Soutmeer (Great Salt Lake). Die stad se oorspronklike naam, Great Salt Lake City, was 'n verwysing na dié uitgestrekte soutmeer en is in 1868 verkort tot Salt Lake City. Sy bevolking is op 1 Julie 2019 beraam op 200 567. In die sensus van 2010 is dit bepaal as 186 440.

Deseret Village laat die bou- en leefstyle van vroeë setlaars herleef in die This Is the Place Heritage Park
Die Tabernacle Choir en orrel in die LDS Conference Center. Die LDS-Kerk se algemene vergaderings word twee keer per jaar hier gehou. Die orrel is gebou deur Schoenstein & Co. in San Francisco

Salt Lake City het besondere status as administratiewe hoofstad van 'n deelstaat, as setel van 'n groot universiteit, die Universiteit van Utah, en as wêreldhoofkwartier van 'n welvarende kerkgemeenskap. Terwyl sy lughawe sowel in die VSA asook op internasionale vlak as een van die mees stiptelikes beskou word.[1] Met 'n metropolitaanse bevolking van meer as een miljoen is dit die grootste stedelike sentrum in die Groot Bekken (Great Basin). Sy belangrikste residensiële buurstad en tweede grootste stedelike nedersetting in Utah, West Valley City, is eers so onlangs soos 1 Julie 1980 geïnkorporeer. Oorspronklik net 'n reeks boerderye suidwes van Salt Lake City, geleë in 'n gebied wat deur Heiliges net over Jordan (anderkant die Jordanrivier) genoem is, het dit in die 20ste en 21ste eeu vinnig gegroei. In 2010 was dit die etnies mees diverse stad in Utah waar die persentasie minderhede sowat 45 persent beloop het.[2]

Omrede sy droë klimaat met baie warm somers en koue winters en sy geïsoleerde ligging ver van groot nedersettings en kusgebiede het die Soutmeervallei betreklik lank feitlik onbewoon gebly. Op 24 Julie 1847 het die Profeet en pionier Brigham Young met 148 volgelinge, almal lidmate van die Kerk van Jesus Christus van die Heiliges van die Laaste Dae (LDS-Kerk, in die omgangstaal dikwels Mormoonse Kerk genoem), die wye oop vallei bereik en besluit This is the place – Hierdie is die plek. Kerklidmate, wat elders in die Verenigde State aan godsdienstige vervolging blootgestel was, het hier 'n veilige toevlugsoord gevind – die bestemming van hul groot trek vol ontberings – oor 'n afstand van 1 300 myl vanuit Illinois na die Amerikaanse Weste. Binne twee dekades het sowat 70 000 gelowiges uit die ooste hulle hier gevestig. Danksy die Kerk se toegewyde internasionale sendingwerk, wat reeds teen die middel van die 19de eeu begin is, is die setlaars se geledere aangevul deur bekeerlinge uit die buiteland, onder wie ook enkele nuwe lidmate uit Suid-Afrika. Die onherbergsame plek in 'n droë vallei is deur middel van besproeiing in 'n vrugbare landboustreek omgeskep wat as basis vir latere bevolkingsgroei gedien het.

In hul Soutmeerstad het Kerklidmate een van die Verenigde State se suksesvolste utopiese gemeenskappe gevestig – 'n selfversorgende samelewing met 'n teokratiese regering wat op landbou gesteun en aanvanklik, net soos die patriarge van die Ou Testament, poligamie (veelwewery) goedgekeur het. Selfs die straatuitleg is volgens die bepalings van die Boek van Mormon en Profeet en Kerkstigter Joseph Smith, Jr. se visie vir die City of Zion, New Jerusalem beplan – met 'n wydte van 132 voet vir hoofstrate. Die Salt Lake City-tempel vorm die middelpunt vir 'n koördinateplan waarvolgens strate genommer is. Die setlaargemeenskap kon nogtans net vir 'n beperkte tydperk, tussen 1847 en omstreeks 1890, in sy oorspronklike vorm bestaan voordat dit sy leefstyl aan die Amerikaanse hoofstroomkultuur moes aanpas. Terwyl Salt Lake City in die dekades tot 1930 van die grootste veranderinge van enige groot Amerikaanse nedersetting ondergaan het, is baie van die vroeë tradisies laat vaar. Binne Salt Lake City se stadsgrense het die persentasie Kerklidmate tot sowat 30 persent gedaal.

Gaandeweg het Salt Lake City dieselfde pad geloop soos ander stede in die VSA. 'n Kapitalistiese ekonomie het die ou landboustelsel vervang wat deur die Kerk ontwerp is, terwyl moderne vervoer- en ander infrastruktuurgeriewe, nywerhede ontwikkel is, net soos meer wêreldlike vorme van vermaak en kulturele diversiteit, en 'n moderne samelewing wat gelyke regte vir vroue gewaarborg het. Salt Lake City huisves vandag steeds die internasionale hoofkwartier van die Kerk van Jesus Christus van die Heiliges van die Laaste Dae in 'n kantoorgebou op Tempelplein wat tussen 1962 en 1972 opgerig en – nadat dit gedeeltelik reeds in gebruik was – in 1975 amptelik ingewy is. Hierdie besige administratiewe spilpunt van 'n wêreldkerk met 28 bogrondse en drie ondergrondse verdiepings hanteer so veel pos dat 'n eie poskode daaraan toegewys is.

Ongeag die kerk se behoudende karakter is Salt Lake City 'n kulturele spilpunt wat een van die grootste volwasse LGBT-bevolkings in die Verenigde State huisves en – ofskoon die deelstaatparlement deur Republikeinse kerklidmate oorheers word – in die verlede met Jackie Biskupski 'n lesbiese vrou en lid van die Demokratiese Party as burgemeesteres verkies het.[3] Die voortdurende dialoog tussen moderne Kerklidmate en wêreldlike of andersgelowige inwoners, wat intussen die meerderheid van Salt Lake City se bevolking vorm, dra by tot die stad se aangename en ontspanne atmosfeer en leefstyl. So mag besoekers deel in Kerklidmate se geesdrif vir musiek (die stad is die setel van die befaamde Tabernacle Choir at Temple Square en orkes) en gedurende die somermaande toegang tot vrye opelugkonserte geniet.

Lente en herfs is die mees aangename seisoene vir besoekers. Alhoewel die intensiteit van die sonlig gedurende die warm somers nie onderskat moet word nie, word Salt Lake City se droë berglug in vergelyking met byvoorbeeld Louisiana se hoë humiditeit of die soms bedompige somerweer in dele van Nieu-Engeland as aangenaam ervaar.

  1. (en) Business Wire, 3 Januarie 2020: Cirium: Delta Air Lines is revealed as the most on-time airline in North America for 2019. Besoek op 7 Augustus 2020
  2. (en) Mayor Mike Winder and the West Valley City Historical Society: Images of America – West Valley City. Charleston, SC: Arcadia Publishing 2012, bl. 8
  3. (en) CNN.com – Pride + Progress, 30 Mei 2019: The state that is a strange and deeply imperfect LGBTQ pioneer. Besoek op 16 Julie 2020

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search